Lianie May vier ’n dekade met haar nuwe solo-album

Dit het alles begin ná ’n optrede van die groep Eden in Oranjeville. Lianie May het ’n oudisie afgelê in ’n kleedkamer.

Johan Vorster en Sean Else het haar toe genader om by Mozi-rekords aan te sluit, waarna sy haar debuut-album in 2007 uitgereik het.

Nou is dié Jy soen my nie meer nie sangeres terug en vier boonop ’n dekade in die musiekbedryf.

Iemand om lief te hê, is Lianie May se nuwe solo-album. Die nuwe album bevat liedjies wat met elkeen se hart gaan praat, maak nie saak as jy by die braaivleis vuur staan, lekker sokkie of op ’n romantiese aand uit is nie.

“Ek is so bevoorreg om twee ongelooflike skrywers betrokke te hê by die album, Johan Vorster en Christoph Kotzé (Appel),” sê Lianie.

Volgens haar is Iemand om lief te hê die mooiste liedjie wat sy nog gesing het. “Ek sien so uit om met die album te toer en die liedjies met almal te deel,” vertel sy opgewonde.

Lianie se nuwe album behoort einde September, begin Oktober die winkelrakke tref.


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment