35 wenke om veilig op jou plaas te wees

plaas-polisie-veld

Argieffoto

AfriForum as burgerregte-waghond is nou betrokke by die stryd teen gewelddadige plaasaanvalle en -moorde in Suid-Afrika.

Dit wil voorkom of 2017 een van die bloedigste jare nóg kan wees met tot dusver meer as 278 aanvalle waarin 56 mense dood is.

AfriForum kry gereeld navrae van die publiek en sy lede oor wat die organisasie presies rondom plaasmoorde en veiligheid doen.

As burgerregte-organisasie voer ons die stryd op velerlei vlakke. In die eerste plek plaas AfriForum druk op die regering en polisie om plaasmoorde as prioriteitsmisdaad te verklaar en te hanteer. Die organisasie doen alles in sy vermoë om die bestaande werklikhede in die land te beïnvloed deur tientalle aksies en bewusmakingsveldtogte. AfriForum neem ook die leiding deur hierdie wrede en brutale vergrype internasionaal in die kollig te plaas met verslae en voorleggings wat byvoorbeeld by die Verenigde Nasies se forum vir minderheidsaangeleenthede ingedien word.

Wat is reeds gedoen:

  1. In 2008 is met protesaksies begin en ’n memorandum is aan die polisie oorhandig om ondersoek in te stel na die rol wat politici se haatspraak teen boere speel om mense op te sweep om boere te vermoor.
  2. In 2011 skop ’n veldtog Staan Vas Teen Misdaad af en ’n konferensie word gehou oor hoe gemeenskappe hulself kan beveilig.
  3. In 2012 is die veldtog verskerp en uitgebrei om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar. Die regering is versoek om spesialiseenhede vir landelike beveiling daar te stel.
  4. In 2013 is ʼn verslag bekend gestel waarin die growwe nalatigheid van polisiebeamptes blootgelê is rondom die ondersoekwerk van plaasaanvalle en -moorde.
  5. In 2014 is ʼn verslag oor die brutaliteit van plaasmoorde bekendgestel en ’n petisie met 60 000 handtekeninge teen plaasmoorde is aan die polisieministerie in Pretoria oorhandig.
  6. In 2015 is ʼn tienpuntplan by die Menseregtekommissie (MRK) se openbare verhore oor plaasmoorde bekendgestel. In dieselfde jaar het die burgerregte-organisasie Lorraine Claasen, ʼn navorser en kriminoloog, aangestel om omvattende studies oor plaasmoorde te doen. Claasen en Roets het Australië ook besoek om die plaasmoordkwessie te internasionaliseer.
  7. In 2016 was AfriForum betrokke by die film Treurgrond wat die werklike omvang van plaasmoorde en -aanvalle uitbeeld.
  8. In 2016 onderneem die polisie om met AfriForum saam te werk om landelike geweld hok te slaan.
  9. In 2017 is ’n petisie teen geweldsmisdaad by die presidensie by die Uniegebou ingehandig en ’n verslag oor die jongste statistieke is bekendgemaak. Gemeenskapsveiligheid word ook drasties uitgebrei met die uitbou van radionetwerke, aktiewe patrollerings van woongebiede en insidensiebeheerbeplanning. AfriForum-buurtwagte word deurlopend gestig en gemeenskappe kry opleiding om hulself te beveilig.

Ondanks al dié pogings het AfriForum ook besef dat gemeenskappe self daadwerklik iets aan hul eie situasie moet doen in die lig van die gebrek aan politieke wil van regeringskant om boere te beskerm.

AfriForum kan nie boere of hoewebewoners individueel beskerm nie en doen daarom ’n beroep op mense om self verantwoordelikheid vir hul veiligheidsituasie te neem. Om hiermee te help, is verskeie kenners genader om wenke te deel wat die verskil tussen lewe en dood kan beteken. Die kenners kom uit die georganiseerde landbou, polisie, private veiligheidsmaatskappye en sluit ook individuele veiligheidskonsultante soos Dawie Conradie van Radio Connect Systems in.

Van hierdie wenke is eenvoudig en logies, maar is goed wat dikwels nagelaat word omdat te veel boere steeds glo dat ’n omheinde opstal, ’n alarmstelsel en waghonde voldoende maatreëls teen plaasaanvalle is.

plaashek-pexels

Foto: Pexels

Deur net een of twee van onderstaande wenke te begin toepas, kan jy dalk voorkom dat jy ’n slagoffer word.

  1. Maak vrede met jou bure. Swak buurmanskap in afgeleë gebiede maak jou nog meer kwesbaar. Jou buurman is die eerste persoon wat jou kan bereik as jy in die moeilikheid is en ook die eerste een wat kan sien as iets in jul omgewing of naby jou plaas verdag of verkeerd lyk.
  2. Sorg dat jy die telefoon- en selfoonnommers van jou bure ken.
  3. Sluit aan by ’n buurtwag of patrollie en as daar nie een in jou omgewing is nie, neem die leiding en begin een.
  4. Verander jou argelose houding. Baie plaashuise het ingangshekke, veiligheidsdeure en diefwering aan die vensters. Maar dit staan wawyd oop vir misdadigers om in te kom. Baie mense word ook Sondae aangeval as hulle van die kerk af kom, omdat hulle dan rustig en nie baie waaksaam is nie.
  5. Sleutels moet onder geen omstandighede rondlê nie sodat niemand afdrukke kan maak of nommers kan neerskryf nie.
  6. Gebruik sekuriteitstoerusting tot jou voordeel om vir jou tyd te wen in aanloop tot ’n plaasaanval. Sorg dat alarms, infrarooi strale en elektriese heinings altyd geaktiveer en in werkende toestand is.
  7. Veiligheidshekke, deure en ander vorme van fisieke grense maak dit vir ’n aanvaller moeiliker om by jou uit te kom. Bring daardie ysterhek in die gang aan wat jou en jou gesinslede meer tyd sal gee om te beplan wanneer julle aangeval word. Hou die deure ten alle tye gesluit, selfs as jy buite is. Dit verklein die kans dat iemand vir jou agter ’n deur by jou huis kan inwag. Te veel mense word onverhoeds betrap en ingewag as hulle uitgaan om byvoorbeeld die honde kos te gee.
  8. Moenie dink dat jy nié aangeval of oorrompel gaan word nie. Dit kan en gebeur met almal. Wees deurentyd op jou hoede en hierop bedag.
  9. Mense op plase en hoewes is dikwels mense met ’n vaste en gereelde roetine. Hulle staan op dieselfde tyd op, gee die diere op dieselfde tyd kos en sluit hulle hekke, deure en store op dieselfde tyd oop. Dit kan positief én negatief wees. Verander jou roetine in jou onmiddellike omgewing van tyd tot tyd, maar onthou dat roetine in ’n gemeenskap daartoe kan bydra dat mense vir mekaar uitkyk. As jy en jou buurman byvoorbeeld elke oggend op pad skooltoe bymekaar verby ry, is dit gerusstellend en wanneer jy hom of haar die dag nie sien nie, behoort jy ’n oproep te maak om te hoor of alles nog reg is.
  10. Vra iemand betroubaar om na jou plaas om te sien as jy met vakansie gaan.
  11. As jou opstal so geleë is dat jy rondom die werf en store kan ry voordat jy by die huis ingaan, moet jy dit gereeld doen om te kyk of booswigte jou nie iewers inwag nie.
  12. Maak ’n plan om ten minste twee ingange na jou opstal te hê en maak seker dat die omgewing om hierdie roetes skoon is sodat jy ver voor jou kan uitsien. Aanvallers kan maklik klippe of ander objekte in die pad plaas om jou te forseer om te stil te hou.
  13. Met jul tuiskoms moet plaasbewoners gewapen en gereed vir enige gebeurlikheid wees. Indien moontlik moet ’n elektriese motorhek gebruik word wat met ’n drukknoppie werk om te voorkom dat mens moet uitklim om die hek oop te maak.
  14. Plaasbewoners moet in ’n beveiligde gebied om die huis stilhou sodat hulle dadelik kan wegtrek as hulle aangeval word. Die voertuig se neus moet dus nie na ’n muur toe wys nie.
  15. Bome se ondergroei moet skoongesny word, want dit kan ’n skuilplek vir misdadigers wees.
  16. Daar moet behoorlike beligting buite huise wees.
  17. Gebruik gruis in jou erf of om jou huis as vroeë waarskuwingsteken.
  18. Mense op hoewes en kleiner plase wat naby aan mekaar woon, moet bedag op mekaar se diere wees. Honde blaf nie sommer onnodig nie en wanneer die hele buurt se honde blaf, is daar verseker iets aan die gang.
  19. Hou genoeg baie kwaai waghonde aan. Hulle is die boer se oë en ore. Hulle moet kwaai genoeg wees om enige mens te byt.
  20. Boere moet ’n stelsel hê om die gebruik van brandstof en veevoer te beheer.
  21. Veeboere moet hul vee gereeld tel en sorg dat dit op die wetlike voorgeskrewe wyse gemerk is.
  22. Kyk uit vir enige tekens soos blikke, houtstompe en klippe wat uit plek lyk, bottels wat rondlê of plastieksakke aan heinings. Kyk ook na gras wat platgelê lyk waar misdadigers skuil om plaasmense se bewegings dop te hou voor hulle aanval. Wees ingestel en bewus van jou omgewing. Kyk ook na vreemde spore en drade wat geknip word.
  23. Moenie net op landlyne, selfone en internetfone vir veiligheid staatmaak nie. Belê in tweerigting- en ander soort radio’s en ander hulpmiddels soos ’n sirene wat kan afgaan as jy in die moeilikheid is of self kringtelevisie. Moderne tegnologie moet egter nie afgeskiet word nie. WhatsApp-groepe kan baie nuttig wees om mekaar in te lig oor byvoorbeeld verdagte persone of voertuie in die omgewing. Gemeenskappe met radio’s moet op ’n gereelde basis met mekaar inskakel, soos elke oggend en aand. Dit is ook belangrik dat mense byvoorbeeld ’n voorafopgestelde kode vir nood moet hê sodat as jy die een aand inskakel en die persoon die kodewoord gebruik, julle sal weet dat hy of sy in die moeilikheid is. Effektiewe en presiese kommunikasie is van kardinale belang en moet selfs ingeoefen word.
  24. Moet onder geen omstandighede jou veilige sone in jou huis na donker verlaat om ondersoek te gaan instel na ’n probleem buite nie. Soos wanneer daar vreemde geluide of alarms of heinings is wat afgaan, krane wat skielik om geen verklaarbare rede loop nie of selfs mense wat huil nie. Boosdoeners dink enigiets uit om mense uit hul huise te lok net om hulle wreed aan te val.
  25. Te min mense slaan ag op die sogenaamde vroeë waarskuwings. Heinings wat reg opgestel is en sommer skielik seine gee, is ’n vroeë waarskuwingsteken! Moenie gaan kyk wat fout is nie. Dit mag ’n lokval wees. Ontbied hulp.
  26. Indien jy iemand op jou eiendom betrap, moet daar ’n dossier by die polisie geopen word en ’n klag van een of ander aard soos diefstal, betreding of poging tot roof aangelê word. Só moet die persoon se vingerafdrukke geneem word, wat daarop kan dui dat dit ’n gesoekte persoon is of iemand wat dalk op parool uit nadat hy ander misdade gepleeg het.
  27. Rapporteer alle verdagte persone of voertuie by jou naaste polisiestasie.
  28. Wees baie versigtig met die deel van inligting rondom jou perseel en gewoontes. Huis- en plaaswerkers is dikwels ’n probleem omdat hulle die inligting aan kriminele oordra. Dit is ook verkieslik dat werkers glad nie moet weet dat daar ’n kluis, wapens, kontant of enige ander waardevolle items in jou huis is nie. Daar was al gevalle in misdaadondersoeke waar foto’s van items soos kluise, alarmstelsels op selfone gevind is van werkers wat dié inligting aan boosdoeners deurgegee het.
  29. Moenie enigiemand in diens neem voordat die identiteit en agtergrondsgeskiedenis van die persoon vasgestel is nie. Hou rekord van persone wat by jou werk en sorg dat jy foto’s en afskrifte van hul identiteitsdokumente het.
  30. Vergoed vertrouelinge wat inligting oor onwettighede verskaf en moedig werkers aan om inligting oor verdagte omstandighede bekend te maak.
  31. Werkers of vreemdelinge moet verkieslik nie direkte toegang tot ’n erf hê om by ’n deur aan te klop nie. Bring ’n interkomstelsel buite die hek aan. Te veel kere is plaasmense al oorval deur misdadigers wat voorgee dat hulle werk soek of iets wil koop.
  32. Besluit watter vertrek in die huis jul veilige sone is waarheen almal vlug ten tyde van ’n aanval. ’n Badkamer is ’n verkieslik om voor die handliggende redes. Maak egter seker dat die badkamer verder beveilig word deur ’n baie sterk deur en selfs ’n staalplaat aan die agterkant om beter beskerming teen vuurwapens te bied. Binne dié sone is dit uiters belangrik om noodsaaklike medisyne en kommunikasie te hê. Dit is ook raadsaam om ’n selfoon hier te versteek wat altyd gelaai is en net in geval van nood gebruik kan word. Elke gesin behoort ’n veiligheidsplan te hê vir die dag wanneer iets gebeur. Elke gesinslid moet presies weet wat hy of sy ten tyde van ’n aanval moet doen en waarheen hulle moet gaan.
  33. Baie bejaarde mense wil nie van hul plase trek of van moderne tegnologie gebruik maak om hul te beveilig nie. Gemeenskappe behoort sulke persone te identifiseer en saam met hul familie koppe bymekaar sit hoe hulle in hul omstandighede beveilig kan word.
  34. As jy ’n wapen het, moet jy dit aan jou dra én kan gebruik. Dit help nie dit lê in ’n kluis nie.
  35. Te veel boere sien die opskerping van veiligheid steeds as ’n duur en onnodige uitgawe. Die realiteit is egter dat die situasie so ernstig is dat geen onkoste ontsien mag word nie. ’n Mens se lewe is immers meer werd as al die veiligheidstelsels en toerusting.

Hierdie artikel is oorspronklik op Forumnuus.co.za gepubliseer.

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment